Oudword-angs

Image

Wat is 26?

Ek haat verjaarsdae. Ek geniet ander mense s’n terdeë, natuurlik – kos, drank, samesyn, geld uitgee op geskenke (almal wat my goed ken, weet dat selfs die gedagte aan ’n nuwe buisie tandepasta of ’n pakkie oorstokkies koop, my opgewonde maak). Soos wat my eie verjaarsdag nader kruip, wil ek wegkruip, natuurlik. Tog verg dit die gedagte aan ’n nuwe ouderdom, asook die 10 huise, 50 kredietkaarte en 100 klererekeninge wat jy moet besit om kredietwaardigheid te verkry, om daai laaste skop onder jou gat te wees om jou lewe in orde te kry.

Vandag was daar toevallig ’n episode van stilstuipe by die werk. Stilte voor die storm, gewis. En so in die geharwar om goeters en dokumentasie reg te kry (want sien, Vodacom soek ten minste 3 afskrifte van jou geboortesertifikaat, jou nasate se geboortesertifikate, jou akademiese rekord, 100 bewyse van verblyf, jou bloedgroep en ’n piepie-monster voordat hulle enigsins vir jou ’n kontrak op jou naam laat uitreik – nie regtig nie, maar dit voel so), het ek besef dat dit seker maar tyd is om Die Leêr so stuk-stuk te begin saamsit.

Die Leêr? Ja. Soos in ’n ‘file’ of ’n ‘ring binder’ of ’n watookal. My ma is vreeslik georganiseerd. Behalwe dat sy eenkeer my geboortedatum vergeet het. En nie seker is hoe oud ek is nie. Maar ek onthou een jaar, toe sy vir my en my broer ’n finansiële ‘speech’ gegee het, het sy vir ons elkeen ’n leêr gehad – met ons bankstate en universiteitsrekeninge, als mooi saamgesit. Oulik, nè? Waarop ek reageer: ‘Sjoe! Het Ma AL daai goed geliaseer?’ Waarop my ma toe seg: ‘My kind, as ek die dag die tydelike met die ewige verwissel, is alle inligting wat julle van my benodig in daai groen leêr net daar.’ ‘Ietwat morbied, hoor,’ antwoord ek. ‘Nee,’ sê my ma, ‘lag maar. Maar papierwerk moet georganiseerd wees’. ‘Totdat daar ’n brand in hierdie huis is’, kry ek my laaste sê in. Maar ja, dit het my steeds aangespoor om afskrifte van my ID, bestuurslisensie, paspoort, bankkaarte, bankbesonderhede, mediese fonds-besonderhede en allerlei grilletjies en dingetjie maar saam te sit. Want in die tyd van tegnologie moet alles nog steeds wonderbaarlik gesertifiseer en op papier wees (wat my verstand te bowe gaan).

Die punt van die Leêr? Dit verg die verkryging van jou eie selfoonkontrak, op JOU naam en JOU (nie-bestaande) kredietwaardigheid om jou te laat besef presies hoe klein jy op 26 is. Of nie is nie. Ek kry maar elke jaar ’n eksistensiële angsaanval. Veral as mense vir my goeters begin vra soos ‘geld’ en ‘belasting’ en sulke dinge. So wat de hel is 26?

26 is die wete dat die kleur van jou naellak stylvol is, maar jy wend dit nog net so pateties aan soos daai blou naellak wat jy op die ouderdom van 12 gedra het – ja, daai met die ‘glitter’ en sterretjies in. 26 is die wete dat jy moet minder drink en beter eet en seker maar oogroom moet begin gebruik, maar jy voel dan nog soos ’n kind. Veral as elke liewe kennis met ’n trouring en twee kinders (in my provinsie gebeur die kinders gewoonlik voor die trouring). 26 is die wete dat jy nou verby 25 is en goed oppad 30 toe is. Teen 26 weet jy dat ’n kar NIE meer ’n simbool van vryheid is nie, maar inderdaad ’n baba van rubber, spark plugs en metaal, wat jou geld tot in lengte van dae sal opeet. Op 26 voel al jou probleme soos eerstewêreldse probleme (ek het cutex remover in plaas van make-up remover gebruik, ek het vergeet om sokkies in te pak vir gym, ek kan nie meer elke week rysmelk in plaas van koeimelk bekostig nie, blah blah blah), maar die vrees pak jou elke nag beet dat jy in Suid-Afrika tot groter probleme uitgelewer kan wees (misdaad, retrenchment, blah blah blah). Op 26 wonder jy soms of Liewe Jesus net troumans gee vir die meisies wat gereeld VCSV-kringe bygewoon het en nie die lewe bevraagteken het nie. Eintlik wonder jy dit elke dag. Op 26 wonder jy of dit nog op 30 ook okay gaan wees om jou stiefpa elke keer in trane te bel as jou kar/rekenaar/waterpype moeilikheid gee. Op 26 weet jy dat dit belangrik is om nie net potte en panne en stick blenders in jou huis te hou nie, maar ook ’n leer en ’n 13-spanner. Op 26 bloos jy nie meer as jou tampons uit jou handsak val nie, maar jy bloos steeds as jy besef dat jy die hele helfte van jou werkdag met tamatiesous op jou wang rondgeloop het. Op 26 lag jy vir meisies wat nie ’n wiel kan omruil of weet hoeveel kilometers op hul kar se klok is nie. Op 26 is jy net …

… ag, ek weet nie … so what, ek’s nog 16.

*Indien ek die tydelike met die ewige verwissel, is al my inligting en dokumentasie ook nou weggesit in ’n Flip File, vir enige belangstellendes en skuldeisers. Dit sal daar op my boekrak staan, onder Sewe dae by die Silbersteins en The Guitar Manual  Dankie, Ma, vir die greintjies raad.

Oudword-angs

Gister was blou. Blou soos die Universiteit van Stellenbosch se toetsboekies.

Dit wat hier onder staan, is gister geskryf. Vandag is vandag. En vandag voel ek baie, baie beter.

Purper-potblou-vlootblou-Universiteit van Stellenbosch se toetsboekie-blou-Dinsdag:

18 Junie 2013

Bui: Op-en-af-en-op-en-af-en-op-en-af

Liedjie vir die dag: M83 – Midnight City

Hier sit ek nou en sluk trane terug by die werk. My eyeliner verg moeite en dus wil ek nie my handewerk en professionaliteit met ’n oogknip (letterlik) opmors nie. Sit en dink aan dinge wat my gelukkig maak:

  • Pinterest
  • Mooi dinge
  • Geld uitgee
  • Ballet
  • Wyn
  • Sushi
  • Sing en kitaarspeel
  • Ander mense

Waarom die lus om te huil en huil en op my hurke neer te sak op my kombuisvloer (wat letterlik net gestofsuig is tot op die punt waar ek gisteraand weer begin huil het). Wat maak my moerig? Hartseer? Ons is Vrydag al hierdeur. ‘Goeie moer, kan EEN mens ‘pateties’ in 1000 woorde of meer SO goed verwoord soos Amateur-Liesiekind-Blogger hier?’ Nee, liewe leser, niemand kan nie. Smartvraat = ek. Dramaties = ek. Liefhebber van mense = ek. Te veel. Wat laat my tans tjank soos ’n baba en lus voel om in ’n badkamerhokkie te gaan wegkruip (helaas nie op my hurke nie, want sykouse. En koue vloere):

  • Pinterest = stadige internet/onproduktiwiteit/die lui werknemer wat meer in balletprentjies en mooi rokke as in haar manuskripte belangstel
  • Mooi dinge = in ’n land met soveel lelike dinge, voel ek byna skuldig om my tyd met mooi dinge te verwyl
  • Ballet = My. Enkel. Pyn. En ek voel vet.
  • Wyn = Kop. Karsinogenies. Kilojoules.
  • Sushi = Kilojoules. En naarheid, indien in grootmaat ingeneem.
  • Sing en kitaarspeel … wel … niks negatiefs aan musiek nie. Nooit.
  • Ander mense = maak venstertjies en gangetjies vir allerlei seerkry in die kamers van mens se hart oop.

Ek het ’n vraag. ’n Ernstige vraag. Een wat nie eens Google of #twoogle of e-how vir my in vandag se warboel van inligting kan beantwoord nie. Is dit moontlik om terseldertyd soveel om te gee vir iemand (’n mens, in die geval) tot op die punt waar normale funksionering nie meer moontlik is nie (sit en wag tot persoon die volgende meisie wat ‘die een’ is in die gym/kuierplek/koffiewinkel/’n dergelike plek op ’n afspraak uitvra en dan is jy en jou vriendskap en jou alewig omgee en jou halfweghuis-vir-gebroke-harte skielik op die agterste sitplek)? Is dit NORMAAL om irrasioneel te raak oor hierdie tipe dinge? Hoe sal dit ooit moontlik wees om op iemand se vraag: ‘wat is fout?’ te antwoord: ‘Jy. Jy is die fout. Nie ’n FOUT per se (nee, inderdaad nie ’n fout nie want jy beteken ALLES en nog meer vir my) nie, maar jy is tans ’n swakkerige konneksie wat talle kortsluitings veroorsaak wanneer daar krag en lig in die donkerte benodig word. En tog veroorsaak jy ook krag en lig en is jy nie eintlik ’n swak konneksie nie. En ek wil nie hê jy moet die fout wees nie, en ek wil nie vir jou vertel wat fout is nie, want ek weet PRESIES waar ek met jou staan ek daai antwoord wil ek nie hoor nie. Nie nou nie. Nooit weer nie. ‘Breek bande? Breek jou eie ketting van slegte gewoontes?’. Nee. ‘Hou op swak wees?’ Ek sal ophou swak wees as iemand ’n pil kan ontwerp wat jou gehard maak teen ENIGE behoefte aan ander mense, teen voel, teen kos en teen slaap en enige iets wat in die pad staan van werk en produktief wees. As daardie een Bon Iver-cd te veel betekenis vir jou kry om dit te kan hanteer. As daar ’n ‘geniet jou dag!’-boodskap is wanneer jy vas oortuig is dat iemand jou afgeskryf is. As ’n enkele misverstand of ongewensde aksie genoeg is om alles te laat tuimel. As die gedagte aan iemand (ja, so ’n iemand wat vir jou ’n tipe vriend-konneksie-wat-ook-’n-swak-konneksie is) in ’n nuwe verhouding jou by die werk (nogal in die badkamer naaste aan die eetsaal) laat opgooi en veroorsaak dat jy ’n hele Paasnaweek lank onder jou duvet wil uitkamp. Sommer met ’n flits en ’n leesboek, net sodat jy weer kan voel hoe dit voel om kind te wees, sonder hierdie soort onverwoordbare, ontelbare, onbelangrike kleinerige groterige aardbewings.

My ander vraag is: wanneer raak woorde NET weer woorde en liedjies NET weer liedjies en seisoene NET weer seisoene? Wanneer word ’n buurt weer ’n buurt en nie ’n kombinasie van ’n Wonderland en terselfdertyd ‘wasteland’ nie? Wanneer is dit ooit moontlik om ’n lewe te leef sonder ‘op daai datum het dit gereën en daai liedjie het gespeel en toe’t ons daar gery?’ en ‘dit was hier, by hierdie verfokte simpel ysskaatsbaan waar ek gehoor het dat hy nou reg is om ander meisies te ‘date’’-oomblikke? Wanneer gaan Bon Iver NET weer Bon Iver wees en winter NET eenvoudig winter? Wanneer is dit ooit moontlik om saam met daai ‘vriend-wat-nie-regtig-genoeg-is-as-’n-vriend-nie’ in die openbaar te verskyn en nie bang te wees vir ‘skynbaar normale’ gesprekke soos ‘kyk hoe mooi is daai blonde meisie daar’ en dan veroorsaak dit vir JOU, vir JOU as mens op daai stadium ’n hele ideologiese krisis (en ek wil ook weet wanneer gaan ek ophou om die woord ‘ideologies’ so verkeerd en mildelik te gebruik, byna soos ’n eerstejaar-Lettere en Wysbegeerte-student wat ’n nuwe konsep gehoor het en nou sy opstelle daarmee peper). Belangrikste. Wanneer, in hierdie verdomde simpel samelewing, waar die verskille tussen seuns en meisies alle vorme van geweld, globale issues, eetsteurnisse, selfmoorde, algehele dekonstruksie en selftwyfel veroorsaak, wil ek weet, wanneer, sal ’n Whatsapp net weer ’n Whatsapp word?

Wanneer gaan seuns besef dat, agter elke bitter, kwaai, bitter-kwaai siniese meisie, inderdaad ’n seun sit wat nie gevoel het soos sy wou gehad het hy moes voel nie en dat die bitterheid-kwaaiheid-ek-sou-gelukkig-kon-wees-met-myself-as-jy-net-ook-was net ’n ‘act’ is? En dis al? Mense is nie bitter omdat hulle daarvan HOU nie, hoor. Hulle is bitter omdat hulle iets soek wat hulle nie kan kry nie. Feite.

Maar my goue reël seëvier na jare en jare en jare steeds vir enige vorm van onsekerheid: as jy moet vra, ken jy tien teen een reeds die antwoord en is dit gewoonlik, nege uit tien kere, die antwoord wat jy nie wil hoor nie. En as jy nie iets wil hoor nie, of geen gewensde reaksie kry nie, maak nie saak hoe beskaafd dit is nie, kan dit ’n dag opmors, fondamente laat ineenstort en blogs soos hierdie laat gebeur.

Ek is helaas ’n raps te maer om Hanna Horvath van die reeks Girls te wees en my hare is ook te rooi. En niemand wil die een wees wat ’n loopbaan uit teem gemaak het nie. As ’n mens nie wil teem nie, is Pinterest en mooi dinge en ’n koffie buite in die son die tweede beste ding. Of om jouself net in werk te verloor en te bid dat niemand met jou oogkontak sal maak nie. Of te bid dat jy net weer sal voel asof jy jou eie poot uit die modder kan ruk.

Weer eens – ’n disclaimer note van my kant: ek besef natuurlik vanuit ’n rasionele standpunt hoe bitter belaglik, pateties en temerig my woorde tans is. Ek haal myself uit en ek probeer myself help en vir myself lag. Ek besef ook dat elke mens in staat is om sy eie poot heel gemaklik en maklik uit die modder te kan lig. Maar as woorde nie terapeuties, dog verganklik is nie, dan wat is dit anders?

En ek voel baie, baie beter nadat ek ontlaai het in elke blog-inskrywing.

Gister was blou. Blou soos die Universiteit van Stellenbosch se toetsboekies.

Omdat hierdie Vrydag so melancholies is

Image

 

Ek voel goor vandag en ek kan dit nie vir myself hou nie. Ek voel mislik, huilerig en temerig en wil net in ’n hoekie gaan sit en op appels en All Bran en water leef tot ek letterlik heeltemal verdwyn. Daar is ’n hele paar dinge wat my hierdie week bitter moerig gemaak het en ’n hele paar dinge wat my al vir jare en jare en jare aaneen moerig maak. Maar wanneer jy nie weet of jy moerig, hartseer, melancholies of moeilik is nie, is dit ’n ander storie. Party dinge is irritasies, ander dinge lê net baie swaar op my hart. Ander dinge is irrasionele vrese. Miskien werk dit net om al hierdie goeters te verwoord.

 

  • Ek is nou nog kinderlik bang dat ’n pantie of ’n bra uit my sportsak val en verlate in die gym se kleedkamer rondlê. Die vernedering maak my inwendig seer.
  • Ek raak mismoedig as ek my kosblik by die huis vergeet of as jogurt in my handsak uitval.
  • Ek is bang vir hysbakke.
  • Ek is bang vir geysers wat bars.
  • Ek is bang om alleen in die nag te bestuur. Eintlik. En tog doen ek dit so gereeld.
  • Ek is bang vir parrallel parkeer. As jy nie is nie, geluk/jy’s nie ‘n Kapenaar nie/leer my asseblief, toe?
  • Ek is bang vir die gasstoof in my huis – het enige iemand ‘n IDEE wat met die digteres Sheila Cussons gebeur het?
  • Ek is bang om met oop vensters in die nag te slaap. Spinnekoppe …
  • Ek is nou nog te bang om hardop te lag sonder om my hand voor my mond te sit, want ’n deel van my glo nog vas dat ek draadjies op my tande het en dat daar ’n stuk kos daarin vassit.
  • En so gepraat van draadjies – ek is nou nog bang my tande groei weer skeef. Ek kry elke aand dieselfde nagmerrie oor en oor – dat my tande windskeef groei – so erg dat ek wakker skrik en net gou in die spieël kyk om SEKER te maak dat hulle nog mooi reguit is.
  • Ek is kinderlik bang vir verkeersirkels – want mense weet nie hoe om die goed te gebruik nie.
  • Eintlik is ek kinderlik bang vir ons land se paaie oor die algemeen. Ek verdoesel dit maar net met verblindende padwoede en harde musiek in my kar.
  • Ek HAAT casino’s met ‘n passie. Wat is lekker daaraan om geld te VERLOOR? Wat nog erger is, is hierdie verslae pensioenarisse wat deurnag daar rondsit en elke laaste sent wegdobbel, met die hoop om net iets te wen.
  • Daar was hierdie episode in Moemin – as jy nie Moemin onthou nie, is jy ouer/baie jonger as ek/nie Afrikaans genoeg na my sin nie – en daar is hierdie spokie-gesinnetjie wat Moevallei besoek. Die spokie-gesin verlaat Moevallei op ’n boot, maar vergeet die Baba-spokie. Ek het nou nog ’n kinderlike vrees dat iemand MY gaan vergeet of agterlaat.
  • Ek haat dit om uit te voel/geïgnoreer te word/nie te weet wat aangaan nie.
  • Ek haat die gedagte aan mooiweersvriende – die soort wat jou bitter graag kontak as alles bitter goed met hulle gaan, maar volstrek van jou vergeet as dinge minder rooskleurig met hulle gaan – ook vice versa.
  • Ek haat dit as mense vir my vra om gou iets te vertaal/op te soek/te gee sonder om net te vra ‘so hoe gaan dinge nog daar by jou?’
  • Ek haat dit as mense vir my sê: ‘ag shame’. Gee my konstruktiewe raad, luister na my, beaam wat ek sê, maar ek wil nie jammer gekry word nie.
  • Ek raak absoluut buite myself paranoiës as ek iemand nie in die hande kry nie weens ’n selfoon wat af is.
  • Ek haat hierdie gevoel wat ek vandag het. Daar is EEN rede hoekom ek wil terugtrek Oos-Kaap toe en een alleen. Niemand weet waarom nie en die Vader kan my maar kom haal as iemand uitvind. Natuurlik sal ek NOOIT OOIT die Kaap opgee nie, want ek is eerstens te trots en tweedens te lief vir alles hier, maar, ja. Dis moeilik om ou gevoelens te squash.
  • Die stand van die land maak my soms hartseer – maar ek weier om nou politiek/vroueregte te gesels.
  • Ek haat daai stok-ou-skool-gevoel van ek-sal-nooit-maer-genoeg-wees-nie sodra ek in die gym is en met blonder, mooier mense gekonfronteer word of sodra iemand van wie ek baie hou, nie dieselfde oor my voel nie. Ek haat dit ook dat daar SO baie thinspiration-blogs bestaan: ja – blogs waar meisies mekaar AANHELP om so maer as moontlik te word – ewe met foto’s van bitter ongesond maer rolmodelle om hulle te inspireer. It’s a thing. En dis siek.
  • Tog haat ek die feit dat ek party dae voel asof ek elke spieël kan toegooi en vir ewig alleen by die huis kan bly – in ’n sweetpak.
  • Ek is ontsettend bang dat iets met my sal gebeur en die enigste rede waarom mense sal begin bekommerd raak is omdat ek nie my huur betaal het/opgedaag het vir werk nie/krag gekoop het nie.
  • Ek haat die gevoel dat ek altyd voel dat daar mense is wat harder en beter werk as ek. En ek haat die gevoel dat mense moontlik praat oor die feit dat ek ’n swak werker/mens is.
  • Ek haat die idee dat ek op die ouderdom van amper-26 steeds huil as ek my knie stukkend val en bloed sien.
  • Ditto inspuitings/bloed trek. Ek kan nie eens vir ’n vitamien B-inspuiting gaan sonder om te huil nie.
  • Ek haat die gevoel om altyd SKULDIG oor als te voel. Skuldig oor kos wat ek eet, skuldig oor goed wat ek koop, skuldig omdat ek by my werk sit en Youtube-videos kyk, skuldig omdat ek eerder besluit het om vroeg te gaan slaap as om nog te werk …
  • Ek haat dit om namens ander mense te dink.
  • Ek haat dit om SO baie van ander mense te hou, tot op die punt waar ek hulle fisies nie wil sien nie, maar tog bitter graag ook wil sien. (wat ek sopas geskryf het, maak nie sin nie).
  • Ek haat dit om dinge te hoor wat ek nie graag wil hoor nie of nie die gewensde reaksie op dinge te kry nie.

 

Genoeg vir nou. Malvapoeding en rooiwyn en miskien ’n drukkie of tien is nou al wat gaan werk.

Omdat hierdie Vrydag so melancholies is

Oor plate en Vadersdag – vir my pa

Dis amper Vadersdag en ek weet jy gee nie om oor sulke goed nie. Jou laaie is vol Hallmark-kaartjies, jou kas vol vergete Woolworths-sokkies, nog in hul verpakking, selfs al kla jy dat jy nie ‘een donnerse heel kous kan vind nie’ en êrens in die lekkergoedkas het ek lankal die Turkish Delights wat vir jou bedoel is, gesteel. Ek eet so terloops nie meer Turkish Delights nie – dis vir my bitter sleg. Ek lag elke keer by myself as ek eiers eet – ‘nee sies, ek eet nie iets wat uit ’n hoender se hol uit kom nie’, onthou ek jou sê. Of ‘donkie vreet lap’ as iemand se broek so styf is dat dit in elke liewe strategiese gleuf optrek. ‘SIES Marius!’ het my ma geraas, maar ek en jy het dan so in die kar se truspieëltjie vir mekaar sit en loer terwyl ons proes van die lag. Dis nie moeilik om te raai by wie ek my sin vir humor geërf het nie. Ook nie my musieksmaak nie. (jammer, Ma, maar seriously. Annelie van Rooyen teenoor Queen? Moeilike keuse … werklik). Jy is die enigste een wat gedink het ek sing mooi. ‘Sit die CD sagter’, sê jy Sondae in die kar as ons na Neil Diamond se weergawe van ‘I dreamed a dream’ uit Les Miserables luister. Onthou jy, daai een wat hy tydens 1979 se Hot August Night-opname gesing het? ‘Ag WAAROM, Pa?’ ‘Want ek wil net bietjie hoor hoe jy saamsing, man’.

Toe ek vir ’n kitaar gebedel het, het jy geantwoord: ‘net as jy eendag Cat Stevens se Peace Train vir my daarop kan speel’. Ek het nou nog nie so ver gekom nie, maar ek werk Sondae-aande daaraan as ek alleen is. Ek is jammer dat ek daai tyd my deur toegeklap het toe jy vir my gevra het om ‘net ASSEBLIEF op te hou om daai KAK musiek te speel’ – die KAK musiek waarna jy verwys het, Pa, was Spice Girls. Ek verstaan heeltemal en moes geluister het. Oordeelsfout. Soos baie dinge eintlik oordeelsfoute is. Soos dat ek eintlik by jou moes kom sit het en saam met jou Queen geluister het as jy so alleen wou sit en musiek luister. Gevra het ‘wat dink Pa hiervan?’ eerder as om net weg te loop. Dieselfde geld vir vliegtuie. Perde. Die army. Enige iets, eintlik. Ek was sewe toe ek by my eerste vliegskou was en ek dink ek is die enigste meisie wat dit kan oorvertel. Ons het daai dag nog in Port Elizabeth by die bankbestuurder, daai vet oom, se huis gaan kuier. Toe’t sy papegaai my nog gevloek, onthou jy?

‘Jy gaan eers leer hoe wat in ’n kar se bonnet aangaan voordat ek jou OOIT leer bestuur’, het jy gesê. Ons het toe nooit by die leer bestuur gekom nie. Jy’t nie regtig geduld gehad met my nie. ‘Sit SAGTER daai musiek – dit klink soos ’n bleddie dronk plaaswerker wat oor ’n treinspoor waggel!’ – elke keer as ek my Frida Kahlo movie soundtrack wou luister om my senuwees te bedaar. Die bestuurslesse het dus nie goed gegaan nie, maar ten minste WEET ek nou wat onder daai groen Fiat se bonnet aangaan. ‘Ons gaan met die bakkie ry, ek ry nie met daai kak Italjaanse kar van jou ma nie’. Ja, die bakkie was in die lange duur ’n beter opsie om clutch control mee te leer, maar daai ‘kak Italjaanse kar’ behoort nou aan my. Sy naam is Eros en Pa, jy sou ’n houtlepel op my gat gebreek het as jy hoor watter avonture ons al alles in daai einste groen Fiat meegemaak het. Daar was ’n metode in die malligheid verskuil, dit besef ek nou. Veral as ek van my perd afval en terughardloop huis toe, perd net daar in die veld waar ek haar agtergelaat het en huilend by die agterdeur aangekom het: ‘PA! Ek HAAAAAT daai kinderponie! Ek SOEK haar nie meer nie!’ Waarop jy dan antwoord: ‘hou op huil, klim terug op daai ‘kinderponie’ en dan gesels ons weer. Dis oor jou houding dat daai perd jou die heeltyd afgooi’. Jy was reg, Pa.

As jy my vandag kon ken, sou jy sien dat ek wel tot iemand uitgedraai het met wie jy ’n gesprek kon voer. Ek sou nie geneul het oor geld vir ’n troue of nuwe klere, of enige iets nie. Ek sou ook nie ’n mansmens by die huis aangebring het wat jy nie goedkeur nie (Nee, Pa, ek en Stefan is nog nie getroud soos wat jy altyd gelag het gaan gebeur nie … Stefan, as jy hierdie blog lees, hy’t dit REGTIG gedink … dis nie ek nie, ek belowe). Ek sou seker saam met jou sit en whiskey drink het terwyl ons musiek op die platespeler luister. Of dalk sou ons nie. Ek weet nie. Ons het toe intussen ’n nuwe naald vir daai platespeler gekoop en as ek myself soms alleen in die Jeffreysbaai-huis bevind, speel ek ‘I am, I said’ oor daai platespeler. ‘Altyd as ek daai liedjie luister voel ek dik in my keel soos as ek voel as een van ons honde doodgaan, maar ek weet nie hoekom ek so hartseer voel van ’n liedjie nie,’ het ek een keer in die kar gesê toe ek seker so sewe jaar oud was. Nou verstaan ek.

Als is fine hier, Pa. Die kar se olie en water is reg en die wiele is gepomp en ek ry nie altyd onverskillig nie. Ek belowe ek luister nie na daai stupid goed op MTV nie. Dit gaan soms goed by die werk en ander kere minder goed. Jeffreysbaai is ’n gekommersialiseerde nes en niks in hierdie dorp, behalwe die Griek se Pienk Kafee (wat nie eens meer pienk is nie, kan jy glo?) en die Vanilla Dream-roomyswinkel daar naby die hoofstrand, laat my meer aan jou dink nie. ‘Rum en raisin vir my en ’n caramel dip vir jou’, onthou ek op Sondae-middae as ons roomys koop. Die soft serve in Simonstad is terloops baie lekkerder, hoor. Ek belowe ook dat ek deesdae nie een enkele oproep op my verjaarsdag onbeantwoord laat nie. Ek moes my foon geantwoord het in 2008, want mens weet nooit wanneer dit die laaste oproep sal wees nie.

Gelukkige Vadersdag. Hier onder is Queen se No-One but You, die een wat hulle opgeneem het nadat Freddy dood is – dit laat my altyd aan daai een seevakansie in Kaap Agulhas dink, toe jy nog gesê het: ‘al wat ek soek, is so ’n ou wit huisie by die see, waarin ek net die hele dag lank kan sit en plate luister’.

Ek onthou dit.

A hand above the water

An angel reaching for the sky

Is it raining in Heaven

Do you want us to cry?

And everywhere the broken hearted

On every lonely avenue

No one could reach them

No one but you

One by one

Only the good die young

They’re only flying too close to the sun

And life goes on

Without you

Another tricky situation

I get the drownin’ in the Blues

And I find myself thinkin’

Well, what would you do?

Yes, it was such an operation

Forever paying every due

Hell, you made a sensation

You found a way through

One by one

Only the good die young

They’re only flyin’ too close to the sun

We’ll remember

Forever

And now the party must be over

I guess we’ll never understand

The sense of your leaving

Was in the way it was planned?

And so we grace another table

And raise our glasses one more time

There’s a face at the window

And I ain’t never, never sayin’ goodbye

And it’s one by one

Only the good die young

They’re only flyin’ too close to the sun

Cryin’ for nothing

Cryin’ for no one

No one but you

Oor plate en Vadersdag – vir my pa

Lukrake waaroms

Image

 Ek is terug. Ek was nooit weg nie. Daar was wel baie dinge wat geloop het – skeefgeloop het. My laptop se kragdraad wat sporadies besluit het om geen meer diens aan my te verskaf nie, is een van die skeefloop-dinge. Die feit dat ek twee keer na mekaar letterlik my gat in ’n Pilates-klas gesien het, ook – eers omgeval toe ek in die sogenaamde ‘plough position’ (waar jy gat oor kop met jou voete verby jou ore moet lê) en toe van my ‘roller’ afgeval (’n ‘roller’ is so ’n vet pool noodle-ding waarop jy met die naat van jou rug balanseer om jou ‘centre’ en jou ‘core’ te stabiliseer. Behalwe werk en werk en eet en oefen en nogmaals werk, is daar nie veel meer wat gebeur nie. Maar soms raak ek moeg, vaak en uitgebrand en dan dink ek aan belaglike dinge soos:

 

  • Waarom mense in die eerste plek besluit het om pilates as oefening-vorm te gebruik – wie’t besluit dat ’n spul vrouens in ’n vertrek bymekaar moet kom om hulself op ‘pool noodles’, groot balle en wie-weet-wat-nog-als te moet balanseer? Hoekom doen ons hierdie goed aan onsself?
  • Waarom stok-ou tannies POEDELNAAK in die gym se kleedkamers rondloop, telkens op die skaal wip terwyl hulle hulself in die spieël betrag en rondkyk wie vir hulle kyk. Waarom, waarom, WAAROM is hierdie tipe selfvertroue aanvaarbaar?
  • Waarom party mense daarop aandring om woorde soos ‘friend’ en ‘cousin’ na ‘fwend’ of ‘cuz’ te verfoemfaai? Vir my is dit beslis nie ’n troetelnaampie of toenadering nie. Vir my klink dit asof iemand jou tande gesteel het en jy nou gedwing word om soos ’n gekletterde bergie te praat.
  • Hoe moet mens in ’n joga-klas reageer as iemand poep of omval? Nee, ek is ernstig – hoe HOU ’n mens jou lag vir so iets?
  • Waarom mense soos Sunette Bridges nog nie by ’n psigiater gaan aanklop het nie.
  • Waarom bly ons in ’n samelewing waar kunstenaars soos Rihanna se lirieke soos ‘Shine bright like a diamond’ (uitgespreek: ‘shaain braait laaik a daaimont’) groter aftrek kry as musiek wat destyds geproduseer is? (hierdie kwessie is natuurlik ’n blog-inskrywing op sy eie). En waarom bly hierdie lirieke in ’n mens se kop vassit?
  • Waarom sulke neulerige meisies wat die hele tyd kla dat hulle ouens ‘te veel rekenaarspeletjies speel’, ‘te veel van rugby hou’, en so voorts, HOEGENAAMD ouens het. (Dit is ook ’n blog-inskrywing vir ’n ander keer)
  • Waarom die dag soos die laaste bietjie heuning uit ’n plastiekbottel loop as ’n mens REGTIG verkies dat dit eerder verbygaan?
  • Waarom ’n mens beplan om met jou warmwatersak, bord sop, tjoklits, komberse en ander dergelike dinge in die bed klim – en dan breek jou laptop/bel jou vriende jou vir sop-aande/fliek in Canal Walk en jy wonder altyd hoekom jy nie net EEN oomblik op jou gat kan sit nie – maar as jy WEL met die warmwatersak in die bed kan sit, huil jy oor jou oujongnooi-status en jou gedoemde lewe.
  • Waarom ek klaarblyklik die ENIGSTE een in hierdie samelewing is wat haar snags lê en bekommer omdat skoolleerders ons staatspresident se naam as ‘Jaipik Zoema’ spel en nie ’n greintjie algemene kennis het nie.
  • Waarom ek nie destyds meer oor musiek met my pa gesels het nie. Ek mis hom meer en meer elke keer as ek op Sondae-aande goed soos Cat Stevens en Boston deur die huis laat dreun.
  • Ditto vir vliegtuie en die grensoorlog…
  • Waarom dit SOVEEL makliker is om jou hartseer as blatante woede en ongeskiktheid te laat manifesteer. Soos byvoorbeeld: as iemand op wie jy heimlik verlief is, vir jou vra wat fout is: en jy reageer met ‘niks. Los my net uit.’
  • Waarom ek nie lirieke soos Koos Kombuis kan skryf nie.
  • Wat mense daartoe dryf om ’n aardbol, kettie of draad-ornament by ’n verkeerslig of langs die pad te koop. (Dankie, liefste Suzanne, vir hierdie een).
  • Waarom dit so maklik is om aandag en energie te mors op mense wat dit nooit gaan teruggee nie en dan die res van die mense in jou lewe te mis soos wat ’n laatslaper die MyCiti-bus verpas.
  • Waarom dit vir my SO maklik is om elke liewe detail van ’n gesprek of ’n gebeurtenis, of elke woordjie uit ’n TV-reeks kan onthou, maar dat ek vergeet om eenvoudige e-posse te stuur.
  • Waarom ek ’n skurwe woord in ’n gepaste konteks so bitter snaaks vind.
  • Of ek ooit gaan besef dat Moemin en Heidi vir kinders is.
  • En so gepraat van Heidi – as ek na Heidi se liedjie verwys, verwys ek na die regte, egte Duitse temaliedjie – nie Kurt Darren se simpel mismaaksel daarvan nie.
  • Waar die fenomeen vandaan kom dat mense deesdae elke liewe koek wat gebak word of vegetariese middagete en overpriced bier wat genuttig word, moet afneem en op Twitter deel.
  • Waarom ek op skool soos ’n besetene kon leer, maar deesdae het ek die konsentrasie van ’n sypaadjie.
  • Waarom ek nooit as kind met ballet deurgedruk het sodat ek vandag REGTIG goed kon wees nie.
  • Waarom ek een van die min mense is wat dink dat dit HEMELS is om lekkers soos Smarties, Whispers of Chuckles SAAM met die popcorn in te meng en die hele spulletjie so te verorber – soet en sout saam.
  • Hoe oud ek gaan raak voordat ek gaan ophou om histeries te lag vir elke Orkney Snork Nie-verwysing.
  • Ditto Leon Schuster.
  • Waarom ek die een oomblik baie passievol kan sit en vegvliegtuie en bomme google, maar die volgende oomblik dieselfde met ballet kan doen.
  • Waarom ek ’n hele verdomde brandrissie, pitte en al, kan vreet, sonder om my oë te knip, maar soos ’n baba begin huil as ek moet laat bloed trek of ’n inspuiting kry.
  • Hoe ek op ’n stadium vier gaatjies in elke oor gehad het, maar nou fisies wil omkap as ek aan sulke dinge dink.
  • Waarom die kleinste dingetjies, soos ’n wegneemkoffie op die strand, of ’n lekker stuk koek, my dag so lekker kan maak.
  • Ditto vir ’n glas wyn.
  • Waarom die vriendskappe, waar ’n mens uit en uit net in die vorm van snaakse ‘in-jokes’ of aanhalings ’n gesprek kan voer, die beste vriendskappe is.
  • Waarom ’n ‘WAT?! Kom ons gaan moer die persoon en dan gaan drink ons ’n glas wyn’ vir my ’n BAIE meer opbeurende boodskap as ‘ag shame, vriendin. Sterkte!’ is.
  • Waarom die Youtube-video altyd begin buffer of die cd altyd begin haak sodra die mooi chorus-gedeelte van die liedjie gaan begin.
  • Waarom ek die een dag kan voel asof ek die wêreld kan oorneem met ’n klein swart rokkie, hoë hakke en rooi lipstiek en die volgende dag eensklaps voor my spieël staan en huil omdat ek ‘dik en lelik’ is.
  • Wanneer ek gaan besef dat ek dalk nie so ‘dik en lelik’ is soos wat ek soms in my eie kop vir myself is nie.
  • Waarom ek nie maar tog destyds daai tattoo op my gewrig laat doen het nie – circa voor my vrees vir naalde.
  • Waarom Liewe Jesus, ten spyte van my gevloekery en my swak gedrag, altyd op die laaste minuut intree en uithelp en nog nie van my vergeet het nie. Hy sorg regtig vir sy swartskapies ook.
  • Waarom ek nie maar eerder net daai spul opgehoopte admin afhandel eerder as om te sit en blog nie.

En dis dit vir nou.

 

Xx, Liesiekind

 

 

Lukrake waaroms