Gister

Ek neem my nuwe motor (motor? Ag donner, kan ek dit nie tog maar net ‘n kar noem nie? ‘n Taalpuris is ek tog nie altyd nie.) in. ‘n Lekkende klep moet reggemaak word. Daar is ‘n groterige kleinerige misverstand toe ek douvoordag opdaag. Die werkswinkel se bestuurder en sy makkers krap kop. Ek is gestrand in die Suidelike voorstede, my kantoor is in die stad. “Die shuttle loop eers later, Mejuffrou. En hoe dink sy miskien gaan sy terugkom om haar kar te kom haal vanmiddag?” Ek pluk my moer. Gelukkig is daar ‘n kan vol swart koffie en ander oggend-asems rondom my wat net so die moer in lyk vir die dag wat breek. My dealer daag op (die ou wat die kar aan my verkwansel het, man, nie daai tipe dealer nie) en die misverstand is uitsorteer.

Mak soos ‘n lammetjie kom die werkswinkelbestuurder terug na my en vra om verskoning. “Die shuttle sal u nou stad toe neem, Mejuffrou.” Hoe het ek binne die bestek van 5 minute ‘n “u” in plaas van ‘n “sy” geword? Ek sit voor by Leon en ons ry eers deur Dieprivier en toe deur Grassy Park. Een vir een word elkeen by sy daaglikse tydverdryf afgelaai. Die laaste ou wat oorbly werk by die Sterrewag. Ek is spyt ek het hom nie meer uitgevra oor sy beroep nie. Ek daag uiteindelik by die werk op. Leon se vriendelikheid maak my dag. Hy vra my of ek nog altyd ‘n Kapenaar was en of ek dan nie die Oos-Kaap verlang as ek dan nooit ‘n stadskind was nie. Ja, Leon, jy verstaan nie.

“Lekker dag verder, meisiekind, ek hoop u kar is nou sommer weer hunky-dory!”

Kom by die huis, maak kos. Ek het ‘n driekwartbed om te verkwansel. Die bed staan die hele tweede slaapkamer vol en ek soek ‘n legit studeerkamer vir ontvlugting en skrywerye soos hierdie. Portia bel my om 5h30. Sy het die bed op Gumtree gesien en haar meisiekind het dringend ‘n bed nodig, sy gaan nou ‘n eie kamer kry want sy is 12 en sy het tot nou toe met haar sussie gedeel. Sy kan nie wag om haar eie kamer te versier nie. My hart smelt en ek draai die stoofplaat af om eers vir Portia die bed te wys. ‘n Meisie het immers ‘n kamer nodig.

Ons onderhandel en haar man kom die bed met die bakkie optel. Haar dogter noem my “antie Marelize” oor die foon toe sy oor die woonstelkompleks se interkom ons deurnommer lui. Ek dink by myself – hierdie blouerige tieneragtige kussings uit my eerstejaar het ek nie nodig nie – ek stapel dit op en wil dit saam met die bed weggee. Portia se man: “Ons het nie nog goed nodig nie. Maar ons sal dit graag vir ons kerk gee as julle nie plek het nie.” Ons laai die bed op sy bakkie. Hy sit sy hand op my en Matt s’n: “God bless.”

Partykeer verander ‘n dag met ‘n suur begin in ‘n dag vol aangename mense.

Advertisements
Gister

Lekkers

Sy kan nie meer lekker die regte naam van die winkeltjie onthou nie, maar sy sien dit nog voor haar … soos wat jy dieper verby Melon en Loerie, in die Gamtoosvallei ry, verby die norring groenteplase en groen kampe vol Afrikanerbeeste, en net voordat jy die grondpad slaan, verby die vervalle plaasskooltjie (haar ouma Alice het destyds nog daar die plaaskinders iets van kultuur probeer leer), ry jy weer af by ‘n flentertjie teerpad, en daar sit hy … die Algemene Handelaar, wat aan die ene Oom Corris en Tannie Rita van Wyk behoort het. Daar, op die modderige stuk grond, het die boere in die distrik hul bakkies staangemaak en het plaaswerkers kom inval vir proviand – twee tiekieboksie (in haar kinderdae was hulle nog daai ronde rooi soort, maar hulle is later deur die meer hedendaagse groen-en-blou Telkom-hokkies vervang).

Stap jy die winkeltjie binne saam met jou pa, hy in sy gumboots en jy in joune (bitter klein), weet jy hy gaan vir hom ‘n pakkie Dunhill Lights en ‘n dumpie Pine Nut-koeldrank koop. Vir jou, ‘n TV Bar en ‘n Coke. Die linoleumvloer is al vodde en deurgetrap deur al die moddervoete wat uit die landerye kom ruskans vat en lafenis (mits dit ‘n pakkie Imana mince, ‘n koeldrank of ‘n single sigaret is) te kom soek. Die winkel ruik na BB-pyptabak en meel en koerante. Op ‘n Maandag wag sy opgewonde vir haar ma om die nuwe Huisgenoot gou-gou by die winkeltjie te gaan haal (mits die bestelling betyds gekom het). Die tjoklits lê in kleurvolle papiertjies in die glaskas voor op die toonbank – sy is opgewonde as Oom Corris ‘n nuwe soort by die groothandelaar in Die Baai gaan koop het.

Oom Corris sit altyd vriendelik agter sy kasregister, maar is vinnig om ‘n geveg op te breek as die plaasvolk oorlams raak. Tannie Rita is in die naaldwerkhoekie aan die regterkant aan die skarrel – hier is stukke lap en naald en garing. Aan die die linkerkant is daar nog ‘n glasvertoonkas met botteltjies Borstol en kasterolie en potjies Vicks, haarolie en Dawn-lyfroom en haarnette en haarrekkies. In die stoorkamertjie is daar sakke mielies en meel, tot teen die dak gestapel. Sy  gaan nie daar in nie want as dit enigsins soos die voerkamer tussen die hoenderhokke wees, weet sy dat daar rotte ook kan wees. Maar sy gaan nie daar in nie want haar pa sal vir haar bliksem … mens krap nie in ‘n ander man se besigheid nie, sê hy. Hy en Oom Corris gesels landbou en wie nou weer vir wie met die vuis geneuk het of met ‘n gebreekte bottel bygekom het. Op Vrydagaande as die lone in koeverte uitgedeel is (sy sien nog haar ma se lopende handskrif op die wit koevertjies), dan word daar al gesing voor die son agter die Rooikranse ingesak het. En hier teen seweuur wanneer sy en Boeta gebad is, dan gaan die singery oor na vloekery. Dan hoor mens sommer die gesprekke hier van die groot plaashuis se wit stoep af. Gewoonlik daai vieslike p-woord wat sy een keer DURF herhaal het en ‘n groot oorveeg gekry het. En gewoonlik, vroeg Saterdagoggend, moet haar pa weer met die bakkie kliniek toe, want dan is iemand nou weer beseer nadat hy haaks geraak het met sy buurman.

Sy klim sommer agterop die bakkie, want dan staan sy oopmond en voel hoe die lug teen haar wange slaan. Sy vra haar pa groot asseblief of hy nie wil gaan pype skuif op die lande en onder om ry nie, want sy is mal oor die ruik van die wortels en nat grond en as die spreiers haar raakslaan.

Jare later is sy ouer en al amper klaar met laerskool, dan kom kuier al haar maats by haar. Maar hulle hou nie sleepover en verf naels soos by die huise op die dorp nie – hulle ry sommer met die perde winkel toe, koelsakkie in die hand, om te gaan stokkiesroomys koop. O, sy kon haarself naar eet aan stokkiesroomyse – maar nie daai goor perses nie – sy hou meer van die sjokolade-soort. Soms skraap hulle almal hul sakgeld bymekaar sodat Oom Corris vir hulle elkeen ‘n ‘mix’ in die hand kan stop – hy skeur ‘n bladsy uit ‘n ou telefoonboek, vou hom op in ‘n ‘cone’, en skep dan vir jou lekkers uit daai glaspotte – appelkosies, skrywelekkers, gesiggies … sy was baie kieskeurig oor haar lekkers en het altyd as klein dogtertjie self met ‘n taai, vet handjie in daai potte gegrou om te kry wat sy soek …

… vandag in die stad moet ‘n mens maar tevrede wees met ‘n TV-Bar uit ‘n vending machine in die kafeteria.

Lekkers

Perspektief

Dis Sondag om middagete in Cavendish Square en sy en Die Skot dwaal rond terwyl hulle vir hul Burger King wag. Sondae is vir fast food en Maandae is vir gym, glo hulle. Hulle is gatvol vir die feit dat hulle in ses maande nie kon weggaan nie, dat nie een van hulle op hierdie stadium ‘n nuwe kar kan bekostig nie en dat hulle elke maand net-net uitkom.

In Incredible Connections kyk sy leepogig na die nuutste Macbook Air. Hy staar na langlenskameras. Sy vervloek haar skootrekenaar, wat nou al raak-raak aan ses jaar en te stadig is vir al haar grille en geite en internetaktiwiteite. Hy vervloek sy klein digitale kamera, wat nie so goed is soos die met die fênsie lense nie. Op die ou einde val hulle met redelike leë hande in die tou by die kassiere, sy vir kamerabatterye, hy vir een of ander USB-ding.

Voor hulle is ‘n waardige swartman. Die jare vat aan hom en sy skoene is verslete, maar skoon. Sy hemp se kraag begin skif, maar is tot op die naat gestryk. Sy seun staan by hom – kortbroek, t-hemp, student, ambisie. Fier en regop, anders as die verslonste jong hipsters wat gewoonlik hier ronddwaal. Trots hou hy ‘n skootrekenaar in sy verpakking uit na die man by die toonbank. Geduldig tel die waardige man die volle bedrag af. ‘R 7 000 cash, I made sure I didn’t miss a cent, sir. I saved for a very long time’ ‘n Groot bedrag bereken in ‘n banksakkie vol afwagting. Die kassiere tel geduldig die note en muntstukke. Voordat sy en Die Skot met hul gewoonlike afgejaagde oorhaastigheid kan sug en oë rol, word die twee van hulle stil. Stil staan hulle en kyk hoe die trotse seun sy skootrekenaar onder sy arm neem en hoe sy pa ‘n arm om sy smal skouers slaan. Die kassiere, wat sy dae met moeilike mense verwyl, glimlag groot, maar nederig.

Sy en Die Skot is stil, maar hulle altwee pik in die geheim ‘n traan weg. In die kar sê sy stilweg dankie vir kitskos, ‘n kar, en selfs vir haar stokou skootrekenaar, sommer net destyds gekoop deur haar ma, met ‘n goue kredietkaart, sonder ‘n greintjie trots of seremonie.

Perspektief

Koshuis

Sondagmiddae word gewoonlik gekenmerk aan die ‘hangover’ wat onskuldig en dormant, dog teenwoordig aan jou slape klop. Daar is pampoenkoekies en een of ander dergelike vleis-iets op die eetsaal se spyskaart, maar jy is nie lus vir small talks aan tafel nie. Vandag is jou alleen-dag. Jy vat jou boeke en jou deken na die wasbalkon nadat jy jou wasgoed in die industrieële masjiene (wat moontlik reeds in jou ma se dae daar was) gegooi het. Tussen die aura van eikebome en amper-lente en wasgoed wat droogwaai, lê jy in die son – die literêre teorie wat jy doelloos onderstreep, begin swem onder jou leesbril en jy besluit om eerder jou I-pod harder te sit en jou biografie oor iemand waarvan jy eers verlede week gehoor het, maar wat jou tans interesseer, te lees. Jy dommel weg. Daar is mansstemme op die tennisbaan, ‘n vliegtuig wat sy pad na Kaapstad Internasionale Lughawe baan. Lewe is so stil, maar binne in jou is ‘n bietjie van ‘n leegheid – jou kêrel het ‘n week terug uitgemaak, gisteraand het jy hom uit in die dorp gewaar met iemand anders, en oor ‘n week moet jy besluit watter meestersgraadkursus jy gaan volg. Jou kar staan voor die koshuis – die battery het afgeloop want jy bestuur maar min deesdae, jy loop maar klas toe. Jy hang jou wasgoed uit en haal eers iemand anders se klere uit die tuimeldroër sodat jou handdoeke tog vinnig kan droogword. Jy probeer uit’figure’ aan wie die skrapse nr-6 toppies en stywe jeans behoort en wie nie hulle goed betyds uit die waskamer kan verwyder soos die HK se kennisgewing vermaan nie, maar jy vou dit met deernis op. Jy wonder hoekom jou wasgoed nooit dieselfde ruik as wanneer jou ma dit was nie. Jy het dan nog die Junie-vakansie verneem watter Staysoft sy gebruik: ‘Die groen bottel, Spring Fresh, en jy gooi net ‘n derde koppie in die masjien’.

Jy is steeds nie lus vir small talk of kuier nie en ‘kerk’ het ‘n vae begrip geword sedert jy jou kêrel saam met ‘n ander meisie in die kerkbanke gewaar het. Jy verpoos nou maar eerder op Sondagaande jou tyd met werk of admin of ‘n boek. Jy gooi jou koshuiskamervensters oop en trek jou bed vars oor. Jy steek ‘n vanilla-kers aan (teen die reëls, want daar mag nie goeters brand in die kamers nie … in jou eerstejaar kon jy nog by jou venster uit rook mits jou kamermaat toestemming gegee het, maar dis ook nou al vier jaar gelede) want op 22 wil jy jou nie meer laat voorsê nie. Jou eie-eie kar staan hier onder jou kamervenster en jy moet nou oor jou eie-eie toekoms besin, maar gisteraand toe jy effens besope en bitter hartseer in hierdie einste kamer kom skuiling soek het, het jy maar bitter klein gevoel.

Nou is jy 27-en-amper-28 en daai selfde kar staan nou onder ‘n ander kamervenster, daar is nie meer die studentegemak nie en jy het ‘n kêrel wat van beter weet as om ‘n ander meisie saam te sleep kerk toe en dink jy gaan hom nie sien nie … maar tog wens jy soms vir die onskuld-kleingeid en rustiger Sondagmiddae.

Koshuis

Immanuel

Dis die dampkringe van winter en die mis lê reeds vroeg oor die see. Haar Latyn-opdragte vir haar derde jaar, laaste semester is reeds die vorige aand (in haar slaapkamer by die huis) afgehandel. Sy wou die gesels en die formaliteite asook die kookkos ontsnap.

‘More is ‘n lang dag vir ons’ het haar ouma gesê voor slaaptyd. Sy het die Latyn-boeke weggepak, die bedlamp afgeskakel en ‘n dooie slaap geslaap. In die kar oppad na die plattelandse kerk het sy nie aan veel dinge gedink nie, net bly trek aan die pencil skirt wat nou te los sit en bly voel aan haar wang (gepleister met ‘n nuwe bottel onderlaag wat haar ma verlede week nog vir haar gekoop het: ‘ ‘n mens moet darem ten tyde van die dood nog jou gesig opsit, kind’ het sy nog gesê).

Die diens was ongemaklik. Kerke was nog altyd vir haar ongemaklik maar hier wens sy sy was onsigbaar teen die bekende gesigte. Die tantes, die drukkies van geliefde beste vriende … alles was versmorend op dieselfde vlak. Soos oudergewoonte was daardie houtbanke klinies koud en haar vermaerde lyf wou nie haar sitplek warm sit nie. En elke keer as iemand simpatiek nader wou skuif aan haar, wou sy haarself wegger en wegger van die preekstoel skuif.

‘Immanuel’, lees die woord teen die geelhout. ‘Wat beteken dit?’ vra sy haar pa, byna te hard. Haar ma sis langs haar deur haar tande vir haar om stil te bly. Die kerkbanke is koud en hard en haar ma ruik na Red Door en peppermente. ‘Dit beteken “God By Ons”,’ fluister haar pa terug. Haar pa kom min in die kerk maar hy weet meer van die Sondagskoolstories as die uitgeryste tannie met die pienk trui en poedelborsspeld wat met haar raas omdat sy dinosourusse en planete by die ‘Skeppingsopdraggie’ geteken het. Haar ma is bekommerd gebel en wou weet waar kom sy aan evolusie. Vir haar pa was dit die laaste strooi en hy het al minder met sy grys pak in sy groot wit Mercedes kerk toe gery. ‘Ek sit eerder op my stoep aan God en dink as wat ek in die kerk sit en na my stoep verlang,’ was sy antwoord. ‘Ma, is dit nie dan beter as wat ek op my perd sit en aan God dink as wat ek in die kerk sit en aan perde dink nie?’ Hiervoor was haar ma nie te vinde nie. ‘Maak jy nie genoeg moeilikheid nie? Jy’t jou pa se wilde streep. Ek sweer dis ‘n kwessie van skooljare voordat jy nog begin rook ook.’ Waarop haar pa se laggesig ernstig geplooi het en hy geantwoord het ‘dan trek ek haar laaste gatvel vir haar af.’

Hier sit sy nou in die kerk en dink dat dit nie noodwendig is wat hy wou gehad het nie. Maar sy is nou mooi groot. Vir voorstelle en koppig wees is dit nie nou die plek en tyd nie. Die dominee is stroef en vertel van haar pa wat ‘n man vir sy stories en sy musiek en perde was. Haar beste pel skuif uit die bank agter haar om langs haar te kom sit. Sy krimp ineen. Sy hou nie van mense in haar persoonlike spasie as sy snaaks voel nie. Wat kan ‘n dominee nou sê vir iemand wat ouderlingskap geweier het en eerder op sy stoep met Camus en Queen wou sit? Maar hier haal hy ‘n vetkryttekening uit, al verblyk van die jare. ‘ ‘n Briefie aan my Pa. My pa help ons met die perde. Hy luister altyd harde musiek en sê dat sy plate nie lieg soos die tv nie. Hy hou van sy stoel op die stoep. Hy werk hard. Hy rook, maar hy wil nie hê ek moet eendag rook nie. Hy raas met my en sê my kop is in die wolke. Maar as ek ‘n storie geskryf het, is hy die eerste een wat dit lees. Hy maak my ook nie stil as ek in die kar sing nie. Hy draai die musiek sagter en vra my om harder te sing. Ek is baie lief vir my pa’. Haar oë soos pierings … ‘maar’ … ‘Hy het dit al die jare in sy Bybel by sy bedkassie gehou. Ek het gedink dit sal mooi wees as die dominee dit voorlees,’ fluister haar ma byna meganies.

Toe ‘Genade Onbeskryflik Groot’ se note deur die kerk en sy bytende lug begin skeur, het sy nie ‘n cheeky opmerking gemaak van hoe haar pa dit op ‘n doedelsak in plaas van ‘n orrel sou verkies nie. Sy het voor almal uitgeloop om stilletjies agter ‘n boom te gaan rook sodat sy haar eie huil kon stuit.

Immanuel

Soms mag daar maar op die ‘bandwagon’ gespring word

Image

Partykeer is dit nodig om op die ‘bandwagon’ te spring en saam te huil …

… want ten minste KAN ons nog as een nasie huil.

Dit is geen skok dat oudpresident Nelson Rolihlahla Mandela gisteraand op 5 Desember heengegaan het nie. Wêreldmedia het reeds 6 maande lank met ingehoue asems gewag vir dié nuus. Waarom het die siniese, ongesteurde ek, dan vanoggend snot en trane in my kar sit en huil nadat elke mediaplatform en die radio gewemel het met nuus?

Want, partykeer is dit nodig om nog patrioties te voel. Net partykeer is dit nodig om die doemprofete te ignoreer en te voel wat jy voel sonder om daaroor te dink.

En natuurlik, NATUURLIK uit oudergewoonte en pure nuuskierigheid moes ek gaan loer na wat regsgesindes en die uitgesproke doemprofete te sê het oor die heengaan van een van die grootste, mees erkende leiers op aarde en ons eerste swart president.

Terwyl ek my gesmeerde maskara probeer regdokter om darem skaflik te lyk op kantoor en Gareth Cliff se skertsende stem vanoggend somber is op 5fm, verwerk ek die irrassionele sêdinge en profesies en enige paranoïese eiers wat op sosiale netwerke gelê word. As iemand wat self uitgesproke is op Facebook en Twitter, weet ek nie wat om te sê nie – ‘ag, foei, kyk hoe spring ALMAL vandag op die ‘bandwagon’, HOOR ek al die kommentaar.

En ek lees ’n status van ’n persoon wat baie vinnig in my hart ingekruip het. Iemand wat wys en rasioneel genoeg is sodat ek ook wys en rasioneel wil wees. Iemand wat vra dat ons vir een dag net nie in politieke debatte en ondeurdagte gesprekke betrokke raak nie en net respek betoon. Ek besluit om my vingers tuis te hou en liefs nie kommentaar op ENIGE berig te lees nie. Omstreeks 09:41 bel ’n vertroueling-vriendin met ’n ietwat paranoïese geaardheid. Uitgestres. Ontsteld: ‘Mandela died! What will happen now? Will the Uhuru-prophecies happen?’ Waarop ek eers lag oor die belaglikheid daarvan, maar haar gou aanbeveel om liefs vandag haar hande van Google en News24 af te hou en asseblief onmiddellik rustig te raak.

‘Ek hoor daar is mense van Amerika wat wil kom drama maak, sien ek op Twitter’, kry ek nog ’n boodskap. Ek verander die onderwerp. Ek vermy debatte en ek kry dit reg om op ’n Facebook-vas te gaan.

Maar ek sit en dink aan hoe ek eintlik voel. As jong meisie wat op ’n plaas grootgeword het, het ek met my vuisie in die lug loop en gil: ‘Amandla! Viva Mandela,’ sonder dat ek weet waarom daar ‘Viva Mandela’ geskree word of wat ‘amandla’ beteken. ’n Paar jaar later op skool hoor ek die rassistiese (alhoewel mens toe nog nie geweet het nie) koggelrympies van die bure op die plaas se kinders. Vir hulle is  plaaswerkers slegs ‘plaaswerkers’, en pejoratiewe woorde is algemeen. As tiener lees ek vir die eers te keer A Long Walk to Freedom en Antjie Krog se Country of My Skull. Besef ek vir die eerste keer waaroor Ingrid Jonker se gedig ‘Die Kind’ handel. Dink ek al hoe meer oor politiek en begin ek al hoe meer boeke lees soos My traitor’s heart deur Rian Malan. Besef ek dat geskiedenis altyd twee weergawes het en dat postmodernisme en selektiewe geheue verantwoordelik is vir wat gesien en gehoor word, al dan nie.

’n Storie het twee kante. En my sewentienjarige dogter-van-’n-boer-op-’n-groot-plaas-mentaliteit het dit besef en skielik gehuil vir al die stories wat ons nooit op skool gehoor het nie. Mandela was nie die drie-enige Vader, Seun en Heilige Gees nie, nee. Maar vir iemand aan die ander kant van die storie, wat uitgelewer is aan segregasiebeleide en dompasse, was Mandela die tasbare gesig van hoop en die naaste sprankie hoop op ’n nuwe ideologie – die uitkoms vir soveel wat nie beter gehad het nie. Wat hy vir my en vir jou en vir enige iemand anders was, verskil drasties. Kom ons onthou dit.

Vanoggend het die taxibestuurder wat elke oggend klokslag voor my insny by die verkeersligte voor die Good Hoop Centre, nie eens sy hand by die venster uitgedruk nie. Hy het gedwee vir die karre gewag om verby te kom. Ek weet nie of my hart swaar was nie, maar ek kon sweer sy gesig was somber. Ek kon sweer ek het mense in hul karre sien huil. Daar was selfs nie eens die gewone trompetgeskal van toeters verby die tegnikon nie. Alles was kalm – somber, maar kalm. Dalk was dit net my melodramatiese verbeelding – maar dalk nie.

Vanoggend het ek nie sinies geraak vir mense wat die internet besaai het met foto’s en Mandela-aanhalings nie.

Soms is dit nodig om saam te huil – ten minste het dit vir my gewys dat ons verdeelde nasie nog oor dieselfde brokkie nuus kan huil.

Slaap sag, Tata. Dankie dat jy ‘Die Kind’ deur Ingrid Jonker in die pragtigste Afrikaans kon voorlees.

Soms mag daar maar op die ‘bandwagon’ gespring word

(Ver)taalfrustrasies, onder andere

Ek is nie altyd besonder LIEF vir my moedertaal nie. Dis nie ‘n maklike ding om mee te werk nie.

Voor julle reageer met uitroepe van skok en opmerkings soos ‘wat weet JY van die taalpraktyk af? Is jy in die akademie? Nee. Ken jy die AWS uit jou kop? (ek praat nou-nou hieroor) laat ek net myself gou geld. Dis die einde van die jaar (amper). Ek is besig om dit te verloor (amper). Ek is besig om my geduld met myself en my eie vermoë te verloor (amper).

Twee vrae wat  ek daagliks in my posisie as Afrikaanse redakteur waarvan haar projekte meestal vertalings van die oorspronklike Engels is, moet antwoord, is:

  • Why does the English have one word for this and the Afrikaans needs a whole sentence?
  • Are you sure that long Afrikaans word exists?

My reaksie, gewoonlik? (Na gelang van die hoeveelheid koppies koffie wat ek gehad het, hoe lank dit nog voor middagete is, en die tyd van die maand):

  • We have gaps in the lexicon because English has been around MUCH longer than Afrikaans.
  • Yes. Here. In the dictionary.

Feit. Woorde in Afrikaans is soms tien keer langer as die woorde in Engels. Dit is nou maar so.

As iemand wat dus van dag tot dag in Afrikaans EN Engels werk, wil ek dus net vinnig van my huidige* frustrasies ontslae raak:

  1. As gevolg van die feit dat Afrikaans gapings in die taal het wat Engels lankal oorbrug het, moet ons soms RONDOM die gapings werk – deur sinne, in plaas van volle woorde te gebruik. Engels is gelukkig – hulle het EEN woord vir ’n volle begrip: ‘dice the butternut’. Ons? ‘Sny die botterskorsie in blokkies.’
  2. As gevolg van bogenoemde scenario, beteken dit dat die ontwerper sukkel om jou teks in hul toegekende ontwerpspasie in te pas – dan kom hulle na jou toe terug met gesigte waarop vraagtekens en ongeloof uitgekerf is – en sê: ‘The Afrikaans is way too long – it doesn’t match the English. Why? It must be the wrong text. Are you sure this is the right version?’ Waar jy dan deur die hele teks moet sif en elke liewe verskilletjie in die taal soos ’n skooljuffrou moet verduidelik. Bloot omdat daar sekere woorde in Engels is wat NIE Afrikaanse ekwivalente HET nie.
  3. As gevolg daarvan, word jy gevra: ‘But surely you can think of ONE word to replace the sentence?’ Nee. Ek is nie ’n wandelende Pharos Tweetalige Woordeboek/die BESTE kopieskrywer OOIT/ ’n towenaar nie.
  4. Dit bring my by die volgende ding wat my grief en grief en grief en grief tot ek op my kop wil staan en Gangnam Style herhaaldelik wil fluit – mense (nie kollegas of outeurs nie, bloot kennisse om braaivleisvure en op jou lys van Facebook-vriende wat jou net wil ‘toets’ en vir jou die onmoontlikste, nuutste, vreemdste tegnologiese woord op aarde sal gee en vra of jy nie ‘asseblief ’n Afrikaanse woord daarvoor sal uitdink nie’. As jy dan nie met ’n enkele woord vorendag kan kom nie, kyk hulle jou aan(met so ’n smalende ‘ek is ’n ingenieur/rekenaarprogrammeerder en dus baaaaie slimmer as jy’-uitdrukking) en sê: ‘Ek dog jy is veronderstel om te kan vertaal?’ Vertaal? Ja. Taalreëls ken? Ja. Wonderwerke verrig en nuwe woorde by my gat uitpluk? Nee.
  5. ‘Taalreëls ken’ – dit bring my by my volgende punt: gee my my handleidings en ek gaan soek ’n reël op. Ek sal vir jou VERDUIDELIK waarom iets reg is en waarom iets verkeerd is. Want in Afrikaans is dit waaragtig nie net ’n geval van ‘dit klink reg, daarom moet dit reg wees’ nie. Nee. Elke liewe dag kry ek ’n vraag van ’n Engelse outeur: ‘I’ve never heard this word/expression before. We haven’t learned it in school. Surely this can not be correct?’ Ek sug. Hard.
  6. As jy na bogenoemde scenario nie binne 3 sekondes vir iemand op ’n verstaanbare wyse kan verduidelik waarom jy SO sê en nie SO nie, kry jy weer die aura van ongeloof en vraagtekens. Hierop wil ek net reageer: Ek ken NIE die AWS/Skryf Afrikaans van A–Z uit my kop nie. Ook nie die Pharos Tweetalige Woordeboek nie. En ek gaan ook nie.
  7. Dames en here, my GUNSTELING. Die netelige skool-eksamen-gunsteling, die anglisisme. In byna ELKE geselskap sal jy IEMAND kry wat jou oor die kneukels tik en met daardie smalende ‘ek is slimmer as jy’-uitdrukking kap: ‘maar is DIT nie anglisisties nie? Bestaan daar so ‘n woord in ons taal?’ Waarop ek wil antwoord: Afrikaans het INDERDAAD anglisismes. Maar Afrikaans het nie sy oorsprong SLEGS in Nederlands nie. Het jy dit geweet? Natuurlik is daar ’n meer ‘Nederlandse’, ‘suiwer Afrikaanse’ ekwivalent. Maar moet ek nou myself in elke liewe gesprek sensor net sodat jy nie verheug kan wees omdat jy my taalgebruik kan korrigeer nie?
  8. Net omdat ek in die taalpraktyk werk, beteken dit nie ek gaan elke dag soos ’n Psalm klink/’n goed geformuleerde Facebook-status-‘update’ skryf/nooit ’n tikfout maak nie. Ek is ook maar net mens. Veral as mense soms sê: ‘ek is te bang om vir jou ’n whatsapp te tik want ek is bang jy sien my spelfoute en ‘judge’ my’. Moet jouself asseblief nie so hoog af dat jy dink ek sif deur elke kriesel van jou boodskap, besig om jou foute te korrigeer en jou te ‘judge’ nie. Ek het ander dinge om te doen in my vrye tyd. Soos my naels. En om mense wat denim by denim dra, te ‘judge’.
  9. As mense jou nader met ‘ek is MAL daaroor om te lees. Ek het nog nooit enige iets met die tale te doen gehad nie maar ek hou sommer baie van lees. Ek is nou nie iemand wat ‘n A vir tale op skool gekry het nie. Maar ek is MAL oor lees. Ek sal ook kan proeflees’ – nee. Net … nee.
  10. As mense op ’n daaglikse basis vra: ‘Maar hoekom het ons vertalers? Hoekom BETAAL ons mense om boeke vir ons te vertaal? Kan ’n mens nie net goed by Google Translate intik nie?’ JA! Sekerlik. Doen dit gerus. Ek is seker jou teks sal grammatikaal korrek wees en ook die idiomatiese aard van uitdrukkings in ag neem.

Image

Die sinskonstruksie is VOLMAAK. Nie.

Image

Let op die akkurate wyse waarop die idiomatiese betekenis van die sin oorgedra is.

I rest my case.

Disclaimer:

  • Hierdie stuk is nie ’n akademiese opstel, of selfs ‘n geldige hipotese nie. Ek is waaragtig nie so idioties dat ek die aard van twee baie komplekse tale aan twee Google Translate ‘screen shots’ sal toeskryf nie.
  • Hierdie stuk is NET om te ‘vent’. My woord is nie wet nie.
  • Ek herhaal. Hierdie stuk is NET my OPINIE en GEVOEL en reflekteer absoluut NUL van hoe ander mense die taalpraktyk ervaar.

Maar, ‘if all else fails’:

Image

* ‘huidige’ is ‘n woord. ‘HUIDIGLIK’ is nie. Selfs al staan dit in die bleddie woordeboek.

(Ver)taalfrustrasies, onder andere